WINDHOEK, Namibië. Uitspraak in die appèlsaak van Harry Simon teen sy skuldigbevinding aan strafbare manslag ná ‘n noodlottige ongeluk in 2002 tussen Swakopmund en Walvisbaai, is voorbehou en sy borgtog is verleng. Dit volg ná Simon se regsverteenwoordiger en die staat hul betoë Dinsdag in die Hoërhof in Windhoek voor Regter Collins Parker en Waarnemende Regter John Manyarara afgesluit het. Dit wil voorkom asof die hof se finale besluit sal berus op die vraag of die finale posisies waarin die twee voertuie, Simon se Mercedes-Benz en die Nissanbakkie waarin die Knokke-Heistse toeriste gereis het, tot stilstand gekom het ná die botsing by die afdraai na Langstrand, aanvaar word al dan nie.
Deskundiges in ongelukrekonstruksie wat in die aanvanklike verhoor in die landdroshof in Walvisbaai deur die staat en die verdediging gevra is om te getuig, kon nie oor wesentlike bevindinge saamstem nie. In die aanvanklike hofsaak is Simon vier jaar tronkstraf sonder die keuse van ‘n boete vir strafbare manslag opgelê. Twee jaar van die vonnis is vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat hy hom in dié tyd nie skuldig maak aan enige soortgelyke oortreding nie. In haar betoog oor die straf het adv. Eileen Rakow, vir die staat, gesê die strawwe waarvoor die wet voorsiening maak, is uit pas met ander strawwe soos vir die bestuur van ‘n motorvoertuig onder die invloed van drank. Hiervoor kan ‘n boete van tot N$20 000 opgelê word. Sy is van mening dat die straf vir iemand wat verantwoordelik is vir ‘n motorvoertuigongeluk waarin mense gesterf het, in pas gebring moet word met die straf wat vir ander gevalle van strafbare manslag, waar ander wapens soos byvoorbeeld ‘n mes gebruik is. Sy meen ook dat waar mense skuldig pleit aan strafbare manslag en ‘n mate van berou vir hul dade toon, dit versagtend kan wees. Tog neem die hof dit nie altyd in ag nie. Simon het egter geen teken van berou getoon nie. Sy het ook die moedswilligheid beklemtoon van Simon se optrede wat tot die ongeluk gelei het, naamlik dat hy besluit het teen watter spoed hy wou ry, die besluit wat hy
geneem het om ‘n ander voertuig verby te steek en die besluit oor die wyse waarop hy bestuur het. Dit was nie ‘n geval van ‘n ongeluk soos wanneer ‘n motorband bars en die voertuig onwillekeurig oor die pad swenk nie.
Mnr. Sisa Namandje, vir die verdediging, het in sy repliek daarop gewys dat die bewyslas nie op die verdediging is nie, maar op die staat om bo alle redelike twyfel ‘n saak teen Simon te bewys - iets wat die staat volgens hom nie kon doen nie. Hy sê daar is te veel waarskynlikhede en onwaarskynlikhede. Selfs al was die Nissanbakkie waarin die oorledenes gereis het, vyf sentimeter binne die baan van die aankomende Mercedes-Benz van Simon, sou die spoed waarteen Simon gery het irrelevant wees, al was dit 180 km per uur. Die vraag moet dan gevra word wie die dood van die drie toeriste veroorsaak het. Mnr. Namandje het ook opnuut die aannames van die deskundige getuies oor die finale staanplekke van die twee voertuie in twyfel probeer trek waarop Regter Parker wou weet of al die deskundiges se getuienis in die saak verwerp moes word. Adv. Rakow het egter voet by stuk gehou dat die hof hom moet toespits op die getuienis wat op rekord is en nie in die eerste hofsaak deur die verdediging betwis is nie. Sy het daarop gewys dat die afleidings wat deur een van die deskundiges gemaak is en wat die staat se saak bevestig, nie gedaag is in die eerste saak nie en gevolglik nie nou in twyfel getrek kan word nie.